Ag junne!

Dis mos nou sports!

Vuiste klap in die kerk oor dominee 2010-10-24 09:18 Wellington - Tien polisievoertuie het verlede Sondag met skreeuende bande by ’n kerkdiens in Wellington opgedaag om die bykans 600 oproerige gemeentelede te kom kalmeer.

’n Vuisslanery het uitgebreek en dié wat daar was, sê taalgebruik wat jy nie verwag om in die kerk te hoor nie, is rondgeslinger.

Die oproer in die VGK Bergivier is begin toe ’n groep wat hulself die Beswaarde Lede van Bergrivier (BLB) noem, protes aangeteken het dat ds. James Mackay die preekstoel bestyg.

Mackay en sy vrou, Candice, het in Augustus “ná jare se sosiale, spirituele en emosionele verskille” besluit om “op goeie voet” te skei.

Die vermoede dat Mackay ’n buite-egtelike verhouding gehad het, was egter só sterk dat die VGK-ring van Bergrivier Mackay in sy amp gestuit het terwyl hulle die bewerings ondersoek.

Hulle kon geen gronde vir die BLB se beskuldigings vind nie en Mackay is verlede Sondag in sy amp herstel.

’n Persoon wie se kind volgende week voorgestel word en wat nie wil hê Mackay moet dié geleentheid behartig nie, het kort ná die aanvang van die diens opgespring toe ’n lid van die ring aankondig Mackay gaan preek.

Hy het by die preekstoel opgehardloop, die mikrofoon gegryp en geskree Mackay is ’n “leuenaar en bedrieër”.

Van die gemeentelede het toe opgestaan, die man van die mikrofoon weggepluk en hom begin aanrand.

Dit het gelei tot ’n woeste vuisgeveg en skellery tussen BLB-lede aan die een kant en Mackay se ondersteuners aan die ander kant.

Dis nie bekend wie die polisie gebel het nie.

Die voorval volg enkele weke nadat Mackay se ma aan ’n hartaanval gesterf het.

Mackay sê sy ma het by sy huis gekuier en die middag in trane uitgebars toe sy sien hoe die BLB op die kerkgronde braai.

“Sy het besef dat dit die mense is wat beswaar maak teen haar seun. Om 23:30 het ek my ma huis toe geneem. ’n Halfuur later het ek ’n oproep ontvang dat my ma nie lekker is nie.

“Ek het na haar huis gejaag en net toe ek daar kom, het sy haar laaste asem uitgeblaas.

“Ek is oortuig sy het gesterf van ’n gebroke hart. Sy kon nie meer die BLB se gedrag hanteer nie,” sê Mackay.

Die BLB het onlangs beswaar gemaak teen die nuwe motor wat Mackay aangeskaf het, wat ’n persoonlike nommerplaat het, en die Billabong-klere wat die dominee dra.

“Ek’s ’n moderne dominee. Ek trek aan soos die jeug, want ek wil met hulle identifiseer,” sê Mackay.

’n Lid van die BLB, Julius Williams, sê al wat hulle wou hê, is versoening voordat Mackay terugkeer.

Hy sê hulle het ’n mosie van wantroue in die kerkraad ingestel en eis dat die kerkraad onmiddellik ontbind word.

Williams erken dat Mackay se skeisaak gebruik is om die “vuil wasgoed” van die kerk “uit te kry”.

“Ek vrees dat Sondag (vandag) in ’n groter gemors as verlede week gaan ontaard, aangesien ons nie wil hê Mackay moet die jeug aanneem nie,” sê Williams.

Mackay sê in reaksie op die besware: “God het my ’n tweede kans gegun, hoekom kan die BLB dit nie ook doen nie?”

  • Rapport

http://www.nuus24.com/Suid-Afrika/Nuus/Vuiste-klap-in-die-kerk-oor-dominee-20101024

Ek sien sommer in my geestesoog die klomp anties en omies in hul pragtige kerkgewaad vuis slaan en in pragtige afrikaans swets…

Ja die vere (vannie hoede) het gewaai! en die een tannie sing toe: 'n hand vol vere, 'n hand vol vere…'n boelandse nooi het weer ‘n hand vol vere vir die liewe here’

as daar meer sulke sports in die kerk was, sou ek dalk meer in die eerste plek daar tyd spandeer het.