Dís nou werklik nie geskiedenis

Die oplossing is natuurlik eenvoudig: Sit dit af, sit dit af…

Dís nou werklik nie geskiedenis

http://www.beeld.com/opinie/2013-05-22-ds-nou-werklik-nie-geskiedenis

Wat is geskiedenis?
Dié vraag is dalk nie so eenvoudig soos dit klink nie.
Rakke vol boeke is al daaroor geskryf en dit het al menige hewige argumente ontlok.
’n Baie eenvoudige definisie is miskien dat geskiedenis belangrike gebeurtenisse was wat die wêreld waarin ons leef, gevorm het. Van dié gebeurtenisse beïnvloed baie mense op aarde se lewe steeds, al het dit ook honderde jare gelede gebeur.
Mense wat in geskiedenis belangstel en dit probeer bestudeer, kan nooit genoeg daarvan kry nie.
Daar is altyd iets wat jy nog nie gelees of gesien het nie.
Baie van hulle was daarom bly toe Suid-Afrika ’n klompie jare gelede sy eie History Channel op TV gekry het.
Dié kanaal het hulle nie teleurgestel nie en van hulle kon hulself moeilik van die TV-stel wegskeur.
’n Mens het nou wel so af en toe die kop geskud wanneer die een of ander kenner jou probeer oortuig het dat wesens uit die buitenste ruim gereeld op aarde kom kuier of dat Nostradamus ’n sogenaamde profeet was.
Sommige het weer gekla dat daar te veel programme oor oorloë was.
Die meeste van die programme was egter van ’n hoë gehalte en het seldsame beeldmateriaal bevat wat dit ’n plesier gemaak het om na te kyk.
Van hulle was eenvoudig aangrypend en ander het ’n mens diep ontroer.
Maar ongelukkig het die History Channel die afgelope jaar of wat ook ’n slagoffer geword van die moderne samelewing se obsessie met sogenaamde werklikheid-TV.
Jy kan van die oggend tot die aand, dag ná dag, week ná week en op kanaal ná kanaal sulke programme gade slaan.
Nou ook op een wat eintlik veronderstel was om ons meer oor die geskiedenis te vertel.
’n Program op die History Channel oor ’n pandjieswinkel in Las Vegas waar mense waardevolle besittings probeer verkwansel was nie genoeg nie. Daar is nou ook een oor ’n soortgelyke winkel elders in die VSA.
Ditto die sogenaamde Storage Wars waar mense (gewoonlik) ’n klomp snert aanskaf en dit dan teen ’n wins van die hand probeer sit.
Jy kan ook kyk hoe mense bome afkap of met groot vragmotors op gevaarlike paaie ry. Ander programme wys hoe mense skyfskiet of probeer om hulle soos Middeleeuse ridders te gedra.
Ander probeer vermaak deur te wys hoe mense bie om die een of ander voorwerp iewers heen te vervoer. As dít jou nie stimuleer nie, is daar darem nog programme waar ou motors verfomfaai word of waar mense probeer om krokodille êrens in ’n moeras te vang.
Dié programme leer niemand niks nie.
Miskien net dat Andy Warhol eintlik ’n profeet was toe hy gesê het almal sal eendag hul 15 minute van roem kry.
Dit is ook nie geskiedenis nie, hoe breed jy dit nou ook al definieer.
Daar is wel mense wat daarvan hou en dis hul goeie reg om hul tyd daarmee te verwyl.
Dit is net jammer dat ware geskiedenis daarvoor plek moes maak. Ek sal eerder 20 keer na die uitstekende The World at War van jare gelede kyk as om ’n enkele minuut van my kosbare tyd te mors met werklikheidsprogramme.
Volgende jaar sal die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 onthou word. Die jaar daarna is dit ’n eeu sedert die Suid-Afrikaanse Rebellie van 1915 en in 2016 is die Ierse Paasopstand ’n eeu oud. En so kan ’n mens aangaan . . .
Hopelik sal ons dan al gered wees van Amerikaanse programme oor krokodilvangers en dies meer.
Want dit is byna erger as om op ’n sportkanaal in te skakel en vergas te word op Amerikaanse rofstoei.

wat? :smiley:

Ek kyk vir JARE al nie meer televisie nie. Ek ry na my broer om die Stormers te sien verl… erm speel en ek kry reekse soos The Big Bang by mense en kyk dit op my gemak en tyd. Soms.

Die interweb is my diep donker swartgat <<< wat de donner is 'n “blackhole” in onse taal?? Sels rieme.co.za sê hy weet nie!

’n Gravitasiekolk. Terwyl beskrywend, klink dit nogal lomp.

'Luthon64

wow, ek dink dit klink nogals oulik! Dankie baie :slight_smile:

As die Stormers wen kan hulle dit op die geskiedeniskanaal uitsaai.

Volgende jaar, Hermes volgende jaar. En nee, dit maak dit nie wetenskap fiksie nie!

Kom ons noem dit 'n Nkandla. As die ding R250 miljoen in 'n bodemlose put kan afsuig, kan dit seker enigiets anders ook insuig.

Met die mini-bevolkingsontploffing wat daar plaasvind wens mens partykeer daar sou bietjie meer suiery aangaan.

Dit kan werk, ja, maar as mens kyk na hoe veel en hoe vinnig informasie ingesluk word, kan dit ewe wel ’n “Guptakol” genoem word.

'Luthon64