En as dit ‘slegs blankes’ gesê het?

http://www.beeld.com/By/Nuus/En-as-dit-slegs-blankes-gese-het-20121005

En as dit ‘slegs blankes’ gesê het?

Pieter Cilliers
Assosiasie met ’n filosofie van uitsluiting kom neer op goedkeuring, sê ­die programvervaardiger en skrywer Pieter Cilliers na aanleiding van ’n ­konsert wat by ’n Pretoriase gemeente aangebied gaan word.

Ek is verlede jaar deur die NG gemeente Elarduspark in Pretoria-Oos genooi om oor homoseksualiteit en die kerk te kom gesels. Die belangstelling was onverwags groot.

Die saaltjie waarin ons vergader het, was vol, en die mense wat voor my gesit het, was kerkmense.

Onder hulle was ouers van gay kinders, ouers saam met hul homoseksuele kinders, gay paartjies, familie, vriende en ander belangstellendes. Almal het ’n behoefte gehad aan aanvaarding en om te verstaan.

Langs dié gemeente is die ­Moreletapark-gemeente, bekend vir sy onverdraagsaamheid teenoor gays en vir die uitgangspunt dat homoseksualiteit ’n keuse is en daarom sonde, of ’n siekte wat genees kan word.

Daarvolgens móét en kán gay mense verander; vandaar die gemeente se omstrede H2O-pastoraat (ho­mo­sex­ual­ity to overcome).

Nêrens is die verdeeldheid binne die NG Kerk oor seksuele oriëntasie so sigbaar soos binne hierdie buurgemeentes nie.

Die inklusiewe gemeente wat die menswaardigheid van homoseksuele erken, teenoor die eksklusiewe gemeente wat openlik teenoor gays diskrimineer. Die gemeente wat gemarginaliseerdes omarm in liefde en meelewing soos Jesus dit gedoen het, teenoor fundamentaliste wat sonder genade mense oor hul andersheid uitsluit.

Dit is ’n mikrokosmos van ’n verdeeldheid wat wêreldwyd sigbaar is. Die deelstaat Kalifornië het pas wetgewing aangekondig wat enige terapie wat poog om minderjarige homoseksuele se seksuele oriëntasie te verander, vanaf 1 Januarie aanstaande jaar verbied.

Dit is gedoen omdat hierdie “herstel”-terapieë (soortgelyk aan Moreletapark se H2O-pastoraat) onwetenskaplik en uiters skadelik is, en gay jongmense tot depressie en selfmoord dryf.

In teenstelling hiermee het die deelstaat Noord-Carolina dit ’n paar maande gelede nodig gevind om ’n wet in te stel om selfdegeslag-verbintenisse te verbied. Past. Charles Worley van die Baptistekerk Providence Road­ het selfs gesê dat ’n reuse-konsentrasiekamp vir homoseksuele gebou moet word.

Die doel: om gays daarin te laat omkom van die honger en só die “abnormaliteit” uit te roei. Noord-Carolina is in die Bible Belt, in die suidooste van Amerika. Die gebied is bekend vir fundamentalisme en onverdraagsaamheid, en homoseksuele is boaan die lys van ongewenstes.

Die laaste paar jaar het ook in die ooste van Pretoria stil-stil ’n Bybelgordel tot stand gekom.

Die boodskap van die megakerke, waarvan Moreletapark die sigbaarste is, is wesenlik dieselfde.

Die uitgangspunt is die letterlike interpretasie van die Bybel sonder inagneming van kultuurhistoriese konteks.

Die gevolg is ’n filosofie van onverdraagsaamheid en die uitsluiting van gemarginaliseerdes.

’n Aanspraak daarop dat alleen húlle reg is, want die Bybel sê so. Vandaar die missie om te evangeliseer; om mense te oortuig dat dié standpunt die enigste waarheid is. In die proses word sterk gesteun op onkunde en die vrees vir dié wat anders is.

Die Pew Forum on Religion and Public Life het in 2010 ’n verslag gepubliseer oor die getalle-ontploffing van die Christelike en die Islamitiese geloof suid van die Sahara.

Wat toe reeds kommerwekkend was, was die bevinding dat 73% van die Christene in Suid-Afrika glo dat die Bybel die letterlike Woord van God is. Die verband tussen dié godsdiensontploffing, onkunde en die opvlam van homofobie is opvallend.

Ook opvallend is die stemme wat begin opgaan het om ons Grondwet te verander. Ek het al my kommer hieroor uitgespreek, en my ongemak neem by die dag toe. Die groot Christensaamtrek voor die Uniegebou in Pretoria in 2010 het reeds die gevaarligte laat flikker.

Daar het ds. Bennie Mostert, voorheen van Moreletapark, en Linda Gobodo van die Vuka ­Africa-gebedsnetwerk volgens ’n berig in Rapport daarop aangedring dat die Grondwet se klousule oor seksuele oriëntasie geskrap word.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Tradisionele Leiers se voorstel vroeër vanjaar vir die wysiging van die Grondwet is ewe kommerwekkend. Ook hulle wil hê dat dié klousule verwyder word.

Dit sou kortsigtig wees om oorgerus te raak oor die beskerming wat die Grondwet bied. Naas die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting en die aanslae op onder meer vryheid van uitdrukking en eien­domsreg word gaandeweg aan die klousule oor seksuele oriëntasie weggebeitel.

Fundamentaliste is aan die voorpunt van die aanslag teen homoseksuele se menseregte.

Hoe meer erkenning die homoseksuele gemeenskap geniet, hoe onverdraagsamer raak fundamenta-liste. Ook in Suid-Afrika.

In Junie het ’n groep beswaardes binne die Hervormde Kerk wat hulself die steedsHervormers noem, ’n staat van belydenis teen hul kerk verklaar.

Afgesien van hul beswaar teen die kerk se besluit dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie, beskou hulle die aanvaarding van homoseksualiteit deur teoloë van die kerk as dwaalleer.

Die NG gemeente Moreletapark se eksklusiwiteit is ’n paar jaar gelede skerp onder die soeklig geplaas met die afdanking van die gay orrelis Johan Stry­dom.

Die gemeente se verweer teen dié diskriminasie was dat die Grondwet hul godsdiensvryheid beskerm, gevolglik was die optrede geregverdig.

Die Gelykheidshof het egter bevind dat geloofsvryheid nie sonder meer ingespan mag word om op mense se reg op gelykheid inbreuk te maak nie. Daar is in Strydom se guns beslis, en die gemeente moes opdok en onvoorwaardelike verskoning aanbied.

Dit het egter nie die Moreletapark-gemeente se siening oor homoseksuele verander nie. Wat my bring by my kommer oor die Afrikaans is Groot-konsert wat by dié gemeente aangebied word.

Moreletapark het ’n paar jaar gelede ’n ouditorium gebou om vir sy duisende lidmate plek te skep. Die gebou het die beste klank- en visuele toerusting wat geld kan koop. Dit is opgerig met die oog op gemeentelike saamtrekke, maar dit is ook die ideale ruimte vir groot optredes.

Dit is egter nie ’n neutrale ruimte nie. Die kerkgebou sal altyd geassosieer word met die gemeente se filosofie van uitsluiting; met ’n orrelis wat afgedank is omdat hy gay is; met ’n optrede strydig met die Grondwet.
Dit is in dié ruimte dat die Afrikaans is Groot-konsert vandeesmaand aangebied word.

Anders as die Kerskonsert, is dit ’n sekulêre projek. En anders as in die geval van Idols wat vanuit die Teatro van die Johannesburgse Mosaïek-gemeente uitgesaai word, is gays nie welkom in die Moreletapark-gemeente nie.

Rapport, Sarie en kykNET is onder meer betrokke by die Afrikaans is Groot-konsert. Ek neem aan dié koerant, tydskrif en televisie-kanaal se motief is suiwer kommersieel. Nie net is Afrikaanse musiek groot nie, fundamentalistiese Afrikaner-Christene maak ook ’n groot deel van hul mark uit.

Maar wat is die implikasie hiervan? Dié aandeelhouers assosieer met ’n gemeente wat ’n “slegs heteroseksuele”-bordjie aan die deur hang.

Sou hulle dit oorweeg het as dit “slegs blankes” gelees het? Dit is irrelevant of die mediavennote ’n ooreenkoms met die organiseerders aangegaan het en nie met die gemeente self nie. Feit is, die gebou is ’n simbool van diskriminasie en eksklusiwiteit. Dit is vanuit dié gebou dat die antigay-boodskap steeds verkondig word.

Totdat die gemeente inklusief begin dink, is die ruimte onlosmaaklik gekoppel aan sy lidmate se standpunt oor homoseksualiteit en optrede teenoor gays.

Om verslag te doen oor ’n sekulêre konsert by die Moreletapark-gemeente is een ding.

Om betrokke te wees by die aanbieding daarvan, is ’n ander. Hoe die betrokkenheid ook al geregverdig word, die assosiasie bly. En die assosiasie wek die indruk dat die filosofie van uitsluiting goedgekeur word.

Dit is die media se goeie reg om hulle te posisioneer ten gunste van wie ook al. Maar nie alles kan aan die geklingel van ’n kasregister gemeet word nie. Soms het dit verreikende gevolge, veral in ’n tyd van hernude aanslae op menseregte.