Korrels en Kaf deur Etienne van Zyl

Korrels en Kaf

Deur Etienne van Zyl

Korrels en Kaf is bedoel as gids om getuienis krities te evalueer eerder as om op emosies of intuïsie staat te maak in die vestiging van ons oortuigings.

Die boek skop af met ’n gevallestudie wat ten doel het om swak besluitneming tydens die Covid-19 pandemie en gevolglike lyding uit te lig. Daarna kyk ons na die aard en bronne van kennis. Ons onderskei tussen geldige en ongeldige argumente, daar’s ’n bietjie formele logika en ons bekyk waarskynlikhede waar feite nie met sekerheid vasgestel kan word nie. Daar is ’n hoofstuk om te verduidelik hoekom wetenskap meer betroubaar as informele oordeel is.

Ons waarnemings is nie altyd akkuraat nie, en ons kyk na gevalle waar ons sintuie ons om die bos kan lei. Daar is ’n reeks drogredes waar logika dikwels sneuwel. Hieronder is wensdenkery die grootste sondebok.

Ons bekyk bietjie die eienaardige dinge wat sommige mense glo, die rol wat die nuusmedia speel en die perke van kennis. In die voorlaaste hoofstuk is daar ’n reeks siwwe om ons te help om die korrels van die kaf te skei. Die boek sluit af met ’n kort blik op die morele implikasies van ’n lewensbenadering gebaseer op kritiese denke.

Korrels en Kaf bied verstaanbare blootstelling aan logiese begrippe vir die oningewyde leser wat betroubare oortuigings nastreef.

Die e-boek word uitgegee op korrelsenkaf.co.za . ’n Uittreksel kan gratis afgelaai word en die volledige e-boek is beskikbaar teen slegs R100.

2 Likes