'n Olifant is 'n groot ding....

:smiley:
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Olifant-rig-duisende-rande-se-skade-aan-polisiebakkie-aan-20130306

Ek het 'n lekker glimlag gekry oor hierdie storie, so tussen al die moord, bloed en hartseer in die koerant.

Olifant beskadig polisiebakkie
2013-03-06 07:25
WELKOM. – “Jy is seker gesuip. Waar drink jy?” was die reaksie van die polisie se motorhawepersoneel hier toe hulle hoor ’n olifant het een van hul splinternuwe bakkies in die middestad van Welkom gestamp en erg beskadig.

Skade van duisende rande is aan dié bakkie van die forensiese afdeling, met net 1 700 km op die klok, aangerig toe ’n olifantkoei van die Brian Boswell-sirkus dit as ’n skuurpaal gebruik het.

Die sirkus is vandeesweek in Welkom en die twee mak olifante wei soos gewoonlik wanneer hulle hier is op ’n oop erf tussen die landdroshof en St. Dominic’s-skool.

Maandag, toe lt. Frik Meintjies by ’n verhoor by die hof was, het hy tussen die hof en die sirkustent stilgehou. Terselfdertyd het ’n Welkomse vrugte- en-groentewinkel ou groente met hul bakkie daar aangebring.

Die twee olifante, wat die reuk van die kos gekry het, het die omheining van tou, wat altyd voldoende is om hulle binne te hou, platgeloop en dadelik met hul slurpe die vrugte en groente deur die tralies van die bakkie gehaal en begin eet.

Toe hulle klaar is, het die twee skielik na Meintjies se bakkie geloop.

“Ek het groot geskrik. Die twee het van voor gekom en weerskante van die bakkie verbygestap. Ek het nie geweet wat gaan gebeur of wat om te verwag nie. Die volgende oomblik het die bakkie begin skud.”

Hy sê die olifante se oppasser het vir hom gesê hulle is baie mak en die koei het dit net speels gedoen.

Hy kan egter dankbaar wees dat hy nie sy bakkie tóé aangeskakel en probeer ry het nie, want dit sou die olifant laat skrik het en sy kon dan die bakkie omgegooi het.

Meintjies sê toe hy die motorhawe van die voorval laat weet, het hulle hom daarvan beskuldig dat hy gedrink is. Niemand anders wou hom ook eers glo nie.

Die sirkusbestuur het aangebied om vir die skade aan die bakkie te betaal.

Wie is die sirkus hier? Boswell of Poliesie? Hulle is 'n sirkus in 'n paar ander sake…