Nog nooit so daaraan gedink nie

My leesstof vir die vakansie was die redelik bekende boek Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, deur Robert M Pirsig (1974).

Die boek gaan oor 'n verskriklike klomp goed. Die skrywer en sy seun onderneem 'n motorfietstoer deur die VSA waartydens dinge van die stelselmatige vereensaming van mense, tot herstel van modderskerms bespreek word. Die skrywer word ook deur die loop van die storie geteister deur 'n vorige persona van homself, wat sorg vir die drama-komponent.

Op een stadium terwyl hulle uitkamp, vra die seun vir Pirsig of hy in spoke glo.
Pirsig sê nee, geloof in spoke is onwetenskaplik, want hulle bestaan nie uit energie of materie nie. Dan voeg Pirsig by dat die wette van die wetenskap ook nie uit materie of energie bestaan nie. Hy kom tot die interessante maar komiese gevolgtrekking dat, om geheel en al wetenskaplik te wees, jy nóg aan spoke, nóg in die wette van wetenskap kan glo.

Maak half sin op 'n koddige manier.

Met beste wense vir 'n skeptiese 2009,
Mintaka.