Tito Mboweni se mini-begroting: Van ’n slegte babelas tot in die waakeenheid

Hier is daai artikel waarna ek in die skreeuboks verwys het, wat mens blykbaar net kan lees as jy eers deur vlammende hoepels gepsring het…

Tito Mboweni se mini-begroting: Van ’n slegte babelas tot in die waakeenheid

Die babelas van nege jaar se staatskaping en wanregering is 20 maande later nog niks beter nie. Pres. Cyril Ramaphosa en sy span verkies om eerder te kla oor hoe kwaai die hoofpyn is as om die medisyne te drink; dis net te bitter na hul smaak. En nou het die kopseer ’n chroniese skeelhoofpyn geword en is die pasiënt op pad waakeenheid toe, skryf MAX DU PREEZ in sy ontleding van Tito Mboweni se mediumtermyn-begrotingsrede en die stand van die ekonomie.

R3,000,000,000,000, met nog R1,000,000,000,000 op pad oor die volgende twee jaar of so. R3 triljoen. Dit is hoe groot Suid-Afrika se skuldlas is. Dit is amper dubbel die jaarlikse nasionale begroting.

Die syfers dryf ’n mens na nóg drank, om by die babelas-metafoor te bly.

Die ekonomie groei teen ’n koers van net 0.5%. (Ethiopië groei teen 7.7%, Tanzanië teen 6.6% en Kenia teen 5.7%.)
Die inkomstediens het R52.5 biljoen (R52,500,000,000) minder aan belasting ingesamel as wat begroot is.
Staatskuld is gelykstaande aan sowat 60% van wat ons ekonomie jaarliks produseer (bruto nasionale produk) en gaan tot 71% in 2022/23 styg as huidige tendense voortduur.
Vir elke R1,000 wat die staat aan dienste en goedere bestee, gaan R350 na staatsamptenare se salarisse. Vir elke R100 wat die SAID aan belasting inkry, gaan R46 na staatsamptenare.

Die gemiddelde vergoeding van staatsamptenare het, met inflasie in ag geneem, met 66% tussen 2006/07 en 2018/19 gestyg.
Daar is 29,000 mense in diens van die staat wat meer as R1 miljoen elk per jaar verdien. Dit is dubbel soveel as die dag toe Jacob Zuma president geword het. Werkende Suid-Afrikaners verdien gemiddeld R250,000 per jaar.

Die amptelike werkloosheidsyfer, dit is nou van mense wat nog aktief werk soek, het na 29% opgeskiet. Dit beteken drie uit elke 10 volwasse Suid-Afrikaners wat kan werk, het nie ’n maandelikse inkomste nie, buiten dié wat R430 per maand vir kindertoelae kry.

Eise van R200 biljoen wat teen die polisie, staatshospitale en klinieke vir wangedrag of wanbestuur ingedien is, is nog nie betaal nie.
Eskom skuld R450 biljoen en val uitmekaar. Die planne om die krisis op te los is steeds in die pyplyn, en daar is nog nie ’n oplossing vir die delging van die skuld gevind nie. Daar is wyd gehoop dat Mboweni dit Woensdag sou aanspreek, maar dololo.

’n Ligpuntjie

Een ligpunt van Mboweni se rede was dat ’n bykomende R1.3 biljoen aan die nasionale vervolgingsgesag toegesê is. Dit kan net help om die strafregstelsel gou beter te laat werk en politieke aanspreeklikheid vinniger te herstel deur die vervolging van korrupte politici, amptenare en sakelui.
Mboweni het nie probeer om die vark met lipstiffie beter te laat lyk nie. “Hier staan ons aan die einde van die winter,” het hy gesê. “Ons kosrakke is amper leeg. Ons strompel in ou en ongemaklike bruin skoene rond. Ons uitgawes oorskry steeds ons inkomste. Ons nasionale skuld groei teen ’n onvolhoubare pas. Die ekonomie presteer nie goed nie.”

Maar ongelukkig doen hy toe nie te veel daaraan nie. Sy kollega by staatsondernemings, Pravin Gordan, sê baie keer soortgelyke goed en het dit dié week weer by ’n perskonferensie oor Eskom gedoen, maar hy gaan net so min tot aksie oor om die probleme daadwerklik te pak.

Dit is soos om dokter toe gaan en ’n diagnose vir jou ernstige siektetoestand te kry, maar dan by die apteek en die hospitaal verby te ry terug huis toe asof niks verkeerd is nie.

Soos poep in ’n donderstorm

Mboweni het darem nie heeltemal niks gedoen nie. Hy het staatsdepartemente aangesê om oor die volgende drie jaar R50 biljoen per jaar te bespaar. Provinsies gaan R20,3 biljoen minder en munisipaliteite R20,5 biljoen minder van die staatskas kry. Lede van die kabinet, premiers, LUR’e en burgemeesters se salarisse word gevries. Almal moet nou ekonomiese klas vlieg en self vir hul selfone betaal. Motors mag nie meer as R800,000 (BTW ingesluit) kos nie.

Dankie, Tito, maar dis soos ’n ligte poep in ’n donderstorm.

Die kabinet se “patriotiese gesprek” met die vakbonde oor die leë staatsbeursie, die berg skuld en onbekostigbare staatsdienssalarisse het duidelik nie tot dusver vrugte afgewerp nie. Cosatu en Numsa het ná Mboweni se rede gewaarsku dat ’n verkleining van die staatsalarisrekening met militante optrede begroet sal word.

Regeringskritici wat wil hê die staat moet summier tienduisende amptenare en werknemers van staatsondernemings in die pad steek, is egter nie realisties nie. Dit kan net die strooi wees wat die kameel van stabiliteit se rug breek.

Mboweni hou aan praat van die skokterapie wat die ekonomie nodig het, van hoe die “baobab geskud” moet word. Maar die boom staan roerloos daar op die vlakte en daar is niemand wat sy hand daaraan wil slaan nie.

So wie moet wat doen?

Ramaphosa se konfrontasie met die vakbonde en sy party se RET-faksie kan nie veel langer uitgestel word nie. Nie om duisendes af te dank nie, maar om vergoeding te vries en selfs te verminder, om betekenisvolle deelname van die private sektor aan die bedryf van staatsondernemings soos die SAL en hawens af te dwing, om meer staatsbates te verkoop en om strenger en vinniger teen onproduktiewe amptenare op te tree.

Vakbonde se teenstand teen die ontbondeling van Eskom en die groter betrokkenheid van die private sektor by kragopwekking moet doodeenvoudig van die tafel gevee word. Die nasionale unie van mynwerkers (NUM) en sy aartsvyand, die nasionale unie van metaalwerkers (Numsa) konkel nou saam om die regering se Eskom-planne in die wiele te probeer ry.

Eskom self het sy voet begin neersit toe hy dié week die krag van sowat 2,700 inwoners van Orange Farm afgesit het wat nie wou betaal nie. Maar die probleem van gebruikers wat nie betaal nie, is meestal die regering se probleem. Munisipaliteite skuld Eskom sowat R40 biljoen. Die probleem is die ergste in Soweto, maar dit is weer ’n politieke tameletjie vir die ANC.

Dinge kan nóg donkerder raak
Die verwagte finale afgradering van Suid-Afrika se skuld kan dié hele prentjie nog donkerder maak. Net dapper en dinamiese optrede deur die Ramaphosa-kabinet sal die land dan van die soort inploffing red wat gaan maak dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se hulp ingeroep moet word. Die politieke risiko’s daaraan verbonde is net so hoog soos ekonomiese ineenstorting, want die IMF se voorwaardes vir ’n lening is genadeloos.

Ek het vier weke gelede op dié blaaie geskryf: “Ten minste weet ons nou dat ons teen die einde van Oktober duidelikheid oor Eskom se ontbondeling en die finansiering van sy berg skuld, asook die verkoop van aandele in staatsondernemings soos SAL aan die private sektor sal hê, en met ’n bietjie geluk nog ’n handgranaatjie of twee in die rigting van ANC-ortodoksie.”

Die hoop het beskaam.


En daar het jy dit. Die vakbonde het nou oorgeneem, en is vasbeslote om nie te rus voor die land nie in sy moer is nie.

Werklik skokkend…

… en ek verstaan Max moet eet, maar ek giggel oor die vryeweekblad waarvoor mens moet betaal :wink:

In die dae toe dit nog 'n papierkoerant was, was daar blykbaar in een of ander obskure winkeltjie 'n amuserende insident toe iemand wat afrikaans nie goed verstaan nie gedink het “vry” beteken “gratis.”

In ieder geval, ek weet nie of ek hierdie tipe van ding moet lees sodat ek ten minste gewaarsku is wanneer die papaja die waaier tref, en of ek dit maar moet ignoreer en die partytjie geniet terwyl hy nog aan die gang is nie. Ek is op daardie ouderdom waar die burgeroorlog hier gaan uitbreek net as ek aftree-ouderdom se kant toe begin staan. Dit is die laaste tyd wat mens lus is om te moet vlug en êrens in 'n vlugtelingkamp in Mosambiek te gaan sit en vir die res van jou lewe afhanklik te wees van V.N.-kospakkies.

Ek gaan deur een van my afro-pessimistiese fases, waar ek soms voel dat as Nederland besluit om Afrikaners burgerskap te gee, is ek môre op 'n vliegtuig…

Dit maak my bly. Rerig.

Miskien doen ek te goed en kan met 'n redelike gemak terugsit en kyk hoe die gespuis hulself in die afgrond af moer, maar… ek kannie rerig meer getraak wees nie. Hulle bed word deur hulself opgemaak, kiesers weier om hulle ware taak te verrig, en daar is nerens meer aanspreeklikheid nie. Dis 'n tydbom wat, alhoewel dit erge “splash damage” aan baie mense sal aanrig, ek erken… In die wat rerig aanspreeklik is se gesigte gaan opblaas. SA se regering wals nou móóí na sy eye galge hand-in-hand met hulle ondersteuners.

Ek het ook nou al besef dat, om 'n rofweg groepering te kan maak… wit mense die is wat die minste gaan seerkry. Baie van hulle stroom oor die grense na lande van weelde en rykdom. Soos onlangs gemeld word afrikaners (en sekerlik engelses en ander afrika immigrante) net al hoe ryker terwyl die massa net meer en meer verarm. Fokkit, dit sal my sommer maak begin glo in Karma. Selfs al moet “armes” vlug oor die grense na naburende lande glo ek nou dit is dalk die beste ding vir almal.

Soos my ouma al daai jare altyd gesê het as die kinders aangehardloop kom met 'n bloeiende voorkop of derglike: “Die blinde sambok slaan altyd die seerste”

Die kommentaar bo gaan natuurlik hand en hand met my kommentaar in die “Shoutbox”: Hierdie is dalk NET die skok en die harde realiteit wat ons politieke stelsel nodig het.

Miskien in iemand anders se woorde.

Dalk - in die res van Afrika is hulle reeds daardeur, en hulle het skynbaar nogal hulle les geleer. Vele voormalige basket cases is deesdae stabiel en groei teen 'n gesonde tempo. Maar niemand het juis pret gehad gedurende die leerproses nie.

Hier sal blankes seker outomaties die skuld kry, en as jy weer sien patrolleer bendes met pangas gewapen die strate om van die kokkerotte ontslae te raak.

At the risk of too fine a point: Case in point.

Ander Afrikalande het die naiewe Marxistiese ekperiment ook probeer. Nie een van hulle het ooit geleer uit die foute van bure nie: almal het dieselfde ding weer probeer, oor en oor, en elke keer het hy misluk. Lyk my ons gaan hier maar deur dieselfde proses moet ploeter voor ons gaan leer.

Vir jong Suid-Afrikaners is my raad dit: kom hier uit terwyl jy nog kan. Vir ons oueres vir wie dit nie 'n opsie is nie… nou ja, ons het darem ten minste goeie herinneringe aan die rugby.

Die ding met Suid Afrika is dit, as jy my engels verskoon, “buck” SA altyd die “trend”.

As ander Afrika lande 'n aanduiding was sou 1994 'n bloedbad gewees het. Daar sou nou siviele oorlog gewees het met bendes kinders wat mekaar aandurf met AK-47’s. IPV 'n jare-lange gesprek oor ground eienaarskap sou die pres. net verklaar het dit is so en alle wittes sou uit die land gejaag word. Die land sou teen nou in hongersnood en pestelensie verval het.

Dis die ding met hierdie blerrie plek, vir een of ander rede vind dit altyd 'n weg. Ek sê die laaste tyd herhaals aan by wederhelfte dat dit amper soos 'n permanente vorm van bomskok is maar die bom gaan nooit af nie. Die laaste 15 jaar al is dit een moerse nasionale ramp op die ander maar die “ramp” word elke keer net nouliks gemis. Hel, gister het die dept van toerisme selfs hulle geboortesertifikaat reëls opgegee want dit het net nie gewerk nie.

Is dit nie net die definiesie van SA vandat ek gebore is nie? Twee stukkies slegte nuus vir elke een goeie stukkie. Die plek is altyd aan die brand, krisis altyd net om die volgende hoekie. Maar op een of ander manier Bly die party aangaan.

So jy meen ons sal, soos die Amerikaners, die regte ding doen - nadat ons alles anders probeer het… :slight_smile: