Ek dink jou tweede opsie. Dalk 'n drukfout in die uitgawe wat jy lees? Weet nie - Totius is nou omtrent uit die oertyd en dalk was die spelreëls toe effens anders as nou, of dalk het hy bloot oorboord gegaan met digterlike vryheid. Maar as ek nou reg onthou, het hy nogal heelwat gebruik gemaak van daardie, um, wat noem mens daardie aanhalingstekendingetjie in elk geval? Ek sien hom ook in sy gedig “Repos ailleurs”, waar die woord “kostelike” as “kost’like” verkort word.
Ek vermoed ou spelreels. “Die oue Wilg” het dadelik in my gedagtes opgekom, hy gebruik ook die woord “skeemring” in 'n paar van sy gedigte, wat sekerlik vandag “skemering” sou wees.
Ag, ou poesie is darem maar mooi…
Vergewe en vergeet
Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan
en eendag kom daarlanges
'n ossewa verby
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry
In die eensame veld
staan 'n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring
skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie,
deur die oop gordyn,
'n tafel met bordjies
en glasies fyn,
wat sag in die lig
van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net
in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent
staan 'n meisie klein,
in stomme bewond’ring
van die ligtende trein;
sy sien my geniet
my glansende wyn
en kost’like maal
by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte
van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net
in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
Bostaande straks ook êrens uit my laerskoolloopbaan, en dit vang iets vas wat ek self op jeugdige ouderdom goed mee vertroud was.
As ek nog bietjie die draad van spoor af kan vat, hier is my gunsteling. Omdat dit nie Totius is nie sal ek dit opsioneel maak.
[spoiler]
Jy was 'n kind - NP van Wyk Louw
Jy was 'n kind, en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid was in jou oe;
jou liefde was 'n suiwer-afgemete
deel van jou aardse blydskap, en die hoe
gang van jou hare en borste teen die wind
was skugter met 'n ver, ou aardse vrees;
jy het die weg van alle vreug gevind,
en waar jy was, moet altyd vreugde wees.
Daarom is jy (in duistere vermoede),
soos in die aarde donker waters staan,
in al my dink, in al my dowwe woede
teen mens-wees en die lot, in al my waan
van mooier dinge, en menslike verdriet:
'n laaste kuil van stilte tussen riet.[/spoiler]
Siende hierdie dan skynbaar nou in 'n Afrikaanse poësie-draad ontaard het, hier’s nog een:
Vincent van Gogh - D. J. Opperman
Jy het as 'n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou - alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot 'n vlam verwring.