Verwarring oor dié artse

Nie dat ek juis veel beter behandeling van westers-opgeleide dokters kry nie (die mediese wetenskap het in die algemeen in post-modernisme verval), maar hier sien ons nou 'n probleem wat ek jare gelede al gedink het gaan kom, toe ek agterkom Suid-Afrikaanse technikons bied kursusse in allerlei pseudo-wetenskap aan - daar is skynbaar geen maklike manier om te weet of jou dokter in der waarheid 'n dokter is nie…

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Verwarring-oor-die-artse-20120513

Verwarring oor dié artse

Antoinette Pienaar
Praktisyns van tradisionele en alternatiewe medisyne, waarvan sommige die titel “dr.” gebruik, het soveel verwarring veroorsaak dat hulle per abuis gelys is as mediese spesialiste op die webwerf van ’n Pretoriase private hospitaal.

Die Louis Pasteur-hospitaal in die middestad het, nadat hulle deur Beeld hieroor genader is, die registrasiestatus van al die mediese praktisyns op hul webwerf nagegaan en Vrydag inderhaas die name verwyder van dié wat nie by die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) geregistreer is nie.

Onder hulle was dr. John Mokoena, ’n naturopaat wat praktiseer in die eeue oue Unani-Tibb-medisyne wat nie meer deur die moderne Westerse mediese wetenskap erken word nie, asook Gerald Madileng, ’n praktisyn van “etniese medisyne”.

Die twee werk nie in die hospitaal nie, maar hul name was tot Vrydag op die hospitaal se webwerf gelys as algemene praktisyns wat spesialiseer in chroniese siektes.

Volgens Mokoena se visitekaartjie praktiseer hy as “spesialis in chroniese medisyne” en is sy adres in die hospitaal.

Sy kamers is egter in die Louis Pasteur-mediese sentrum, ’n gebou waar die hospitaal en mediese dokters ook ruimte by ­City Property huur.

Mokoena het in ’n onderhoud met Beeld gesê hy is ’n naturopaat met ’n diploma in Unani-Tibb-medisyne van die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en “spesialiseer” in chroniese siektes soos MIV/vigs waarvoor hy aanvullings voorskryf.

Dr. Louis Mullinder, registrateur van die Raad op Verwante Gesondheidsberoepe (RVGSA), het bevestig Mokoena is daar geregistreer en mag die titel “dr.” gebruik, mits hy dit duidelik maak hy is ’n Unani Tibb-praktisyn.

Mokoena het gesê hy doen dit.

Bertha Peters-Scheepers, woordvoerder van die RGSA, het gesê slegs RGSA-geregistreerde mediese spesialiste mag daarop aanspraak maak dat hulle in ’n mediese veld soos chroniese siektes spesialiseer en Mokoena mag nie.

Mullinder het dit bevestig en gesê Mokoena is om ’n verduideliking gevra.

Madileng het nie gereageer op navrae oor sy kwalifikasies nie, behalwe om te sê hy is by ’n nie-winsgewende organisasie, Ethnomedicine Practitioners ­Association of South Africa (Epasa), geregistreer.

Epasa-praktisyns behandel mense met onder meer kruiemiddels.

’n Matrone by Louis Pasteur-hospitaal het ’n week gelede gesê die inligting op die hospitaal se webwerf is verkeerd omdat individue by die rekenaarafdeling oningelig was.

Die webwerf is eers Vrydag aangepas nadat dr. Mohamed Adam, voorsitter van die hospitaal se direksie, in reaksie op Beeld se navraag, ingegryp het.

Adam het ’n ondersoek gelas na interne gehaltebeheer, maar nie teen druktyd gesê hoeveel name altesame van die webwerf verwyder is nie.

Sy pasiënte weet, sê Mokoena

Buiten die voorskryf van Unani-Tibb-aanvullings aan onder meer MIV-positiewes, gebruik Mokoena ook behandelingsmetodes waar hy koppies aan die vel laat vassuig.

Hy sê hy speel oop kaarte met sy pasiënte oor sy kwalifikasies, weet hy mag nie medisyne voorskryf nie, maar mag siektesertifikate uitreik.

Mokoena verwys pasiënte vir bloedtoetse en, as hy hulle nie kan behandel nie, na dokters.

Sy pasiënte kan uit hul voordele vir “verwante gesondheidsberoepe” by mediese fondse vir konsultasies eis.

Wat is Unani-Tibb?

Unani-Tibb is geskoei op die antieke veronderstelling dat die liggaam uit vier soorte vog – swart gal, geel gal, slym en bloed – bestaan wat in balans moet wees.

Daar is gemeen vier elemente – lug, grond, vuur en water – is in dié vog. Westerse wetenskaplikes het dit sowat 300 jaar gelede begin diskrediteer ná lykskouings op mense, maar mense praktiseer vandag steeds in die veld.

As die outoriteite tog maar net op sommige spreekkamerdeure dieselfde klas van waarskuwingsnotas kon aanbring as dié waarmee sigaretpakkies deesdae spog.

Rigil

Dit sal net so min effek he as die waarskuwings op die sigarette boksies… Mense is “gullible”, het die naweek op 702 geluister na 'n homeopatiese veearts, en die hoeveelheid mense wat ingeskakel het en summier die vrou se beloftes as waarheid beskou het was verstommend. Wat vir my ironies was en in 'n halwe histerie gehad het was die “veearts” wat verduidelik dat hulle nie 'n homeopatiese produk het vir vlooie nie want hulle glo nie daaraan om enigiets dood te maak nie - al vreet die vlooie jou brak se ore vlenters, dis nou maar ok.

asseblief vir my daar was 'n luisteraar wat ingebel het met 'n “hair-of-the-dog-” verwysing. ;D

Terwyl hierdie outeur skynbaar ongelukkig voel dat die Dog Whisperer nie meer volledige inligting gee tydens die akupunktuur sessie van een van sy pasiënte nie. ::slight_smile:

Rigil

Ja, maar dit is mos nou maklik: vat doodgewone vlooipoeier en verdun dit vyfhonderd miljoen keer, dan slaat dit 'n vlooi disnis op vyftig tree… :slight_smile:

Maar onthou dat dít slegs sal werk as die vlooipoeier van egte, lewendige vlooie gemaak is weens similia similibus curantur. Dit skop nou ook ’n klompie vraagies oop oor babapoeier… ::slight_smile:

'Luthon64